Luan & Christine (WW - E3)

Speel Asseblief

Die Legendariese Liefdesaga van Luan & Christine

1 Maart 2025

Op hierdie legendariese dag dwaal Luan doelloos deur die Koerwoud. Hy verwag niks te eksoties nie… tot Christine se profiel op sy skerm fladder. Dit was nie net ’n swipe nie… dit was ’n openbaring. Die hare. Die glimlag. Die vibe. Na een kyk het hy reeds besluit: “Dis sy. My vrou. My mens. My koffie-maat. Mý iemand-wat-my-grappies-sal-verstaan.” (Hierdie man neem vinnig besluite: effektiwiteit op sy beste.) Op presies dieselfde dag, aan die ander kant van die wêreld, sit Christine saam met Tannie Vanessa en kla oor die lewe se algemene drama. Die gesprek van die aand? Hoe om ’n man te vang – sonder om jou menswaardigheid, jou lipgloss of jou sanity te verloor. “Christine,” sê Tannie Vanessa, terwyl sy haar bril regskuif om die koerprofiel beter te kan inspekteer, “dié een lyk vriendelik!” Koer koer! En so begin die pad wat uiteindelik gelei het tot hierdie uitnodiging. Romanties, nè? Soos Nepoleon en Joséphine, of Romeo en Juliet… net met meer data bundles!

6 Maart 2025

Luan skraap al sy moed bymekaar, en bedel nog ‘n bietjie by Bear Grylls ook, om die boodskap te stuur wat alles sou verander: “Wil jy nie dalk oor ’n oproep gesels sodat ons mekaar beter kan leer ken nie?” Teen 8 Maart het hy sommer heel gemaklik geraak en geantwoord met die wêreld kragtigste verklaring: “Kan ons nie maar elke dag so 4 of 5 ure oor ’n videocall gesels nie?” Vier of vyf ure… PER DAG. As dit nie liefde is nie, is dit ten minste onbeperkte WiFi. Videocalls word die nuwe normaal… En daar begin dit. Die beplanning. Die opgewondenheid. Die Google Flights. Die gedagtes van: “Is dit mal? Ja beslis! Maar dit voel wonderlik, so hoekom nie?” Luan se jaarlikse kuier in Suid-Afrika kry ’n opgradering: Hy gaan nou hierdie meisie, waarmee hy so lekker gesels, in lewende lywe ontmoet.

24 Junie 2025

Na honderde gesprekke, lagbuie en “ek kan nie glo hoe gemaklik ons is nie”-oomblikke, breek die dag aan: Die eerste ontmoeting. OR Tambo Internasionale Lughawe. Die plek waar koffers, swaar harte en liefdestories almal land. Christine staan by Arrivals soos ’n senuweeagtige chihuahua in ’n donderstorm. Luan, aan die ander kant, sweet soos die hele Suid-Afrika wanneer Libbok aanloop vir ’n skop. Sy moed en selfvertroue? Verdwyn soos ’n New Year’s resolution na dag drie. Hy stap stadig nader, hoop en bid dat die vrou wat hy op die skouer gaan tik dieselfde een is waarop hy so vinnig verlief geraak het. Spoiler alert: Dit was. En so, liewe lesers, begin die grootste avontuur van almal: Die storie van Luan en Christine - bewys dat liefde jou kan vind, al koer jy net so effens verdwaal deur die Koerwoud.

26 Junie 2025

Gekys. Ja. Na net twéé dae. Christine het uiteindelik iemand gevind met wie sy bereid is om haar Kanonkop Pinotage te deel. Dís hoe ernstig dit was. Op dieselfde dag ontmoet Luan ook haar pa. Soos ’n ware gentleman oorleef hy ook dit. (Ons vermoed hy’t sy beste “ek is ’n goeie man, ek belowe” glimlag gebruik.)

29 Junie 2025

Luan moet Kaap toe vlieg en die groet is swaar soos ’n oorvol koffer sonder wiele. Instinktief weet Luan hierdie moes eintlik net ‘n eenrigting-vlug wees… maar nou ja. Net toe hy deur sekuriteit is, tref dit hom: die behoefte aan ’n dringende oproep. Die ontvanger: Christine. Die boodskap: “Ons moet praat as jy in die Kaap kom.” Die “moet” het Christine se moed in haar skoene laat verkrummel – haar verbeelding is onmiddelik in full-IMAX.

4 Julie 2025

Christine land in die Kaap - angstig oor die ontmoeting met sy ouers en ‘n brandende nuuskierigheid oor die “ons moet praat” oproep - sy blaker uit: “Ek MOET nou weet!” Luan kyk haar aan met die kalmte van ’n man wat klaar besluit het, hy sê toe die woorde waaroor sy al so lank droom: “Ek dink ons moet ’n troue begin beplan.” Geen ring. Geen knie. Geen drama. Net straight-up troue. Ander mense kry eers ’n ring… Christine kry sommer ’n datum. (Baie doeltreffend. Baie Duits.)

5 Julie 2025

Met ’n bos blomme vir Tannie Sannie en ’n beloofde Vida-E voucher vir Oom Paul om die “leë hande”-situasie reg te stel, word Christine aan die familie voorgestel. Dan volg ’n opwindende kampnaweek vol nuwe gesigte, ‘n R55-hospitaalbesoek en die duidelike besef dat hierdie twee se paaie nie sommer sal skei nie. Want niks toets liefde soos ’n kampstoeltjie wat nie wil opslaan nie.

Geheime Troubeplanning 101

Daarna het die troubeplanning volstoom begin… sonder dat enige ouer ’n idee gehad het. In Oktober kom Luan Suid Afrika toe om die ouers se seën te vra, na hulle goedkeuring moes hul hoor dat, wel… alles reeds beplan is. Ouers: “Wat?” Luan & Christine: “Ja!” ’n Tipiese Luan-en-Christine-trademark.

En toe kom Desember…

Tussen die Kersmarkte, sneeuvlokkies en die geur van warm kaneel het daar in Duitsland ’n oomblik aangebreek wat hulle altwee reeds lank in hulle harte gekoester het: hierdie keer met ’n ring, met ‘n knie, en met daardie spesiale vonkel in sy oë. Haar “JA!” was harder as die beierende kerkklokke, en net daar begin hulle horlosie amptelik aftik na 1 Maart 2026. Planne is beraam, bespreek en bevestig. Hulle liefde blom uitspattig en oorvloedig. (Nes die Duitse papierwerk - uitspattig) Na die troue, trek Christine uiteindelik, permanent na Luan toe, waar hulle happy ever after begin - met genoeg stories om kinders, kleinkinders en selfs Die Brothers Grimm, ure lank te vermaak. Dit is met ‘n lied in ons harte dat ons elkeen van julle vandag nooi om saam met ons, ons volgende hoofstuk te kom vier.

Liefde Christine en Luan

Die Troue

1 Maart 2026

10:50 vir 11:15

Heavens View Mountain Resort

kry aanwysings

die tyd is hier

dae
ure
Min
Sek

Drag

Ons vra asseblief dat gaste formele drag sal dra.

Akkommodasie

Die troue sal op Sondag, 01 Maart 2026 plaasvind.

Ons het dit as ’n oggendtroue gereël sodat dié wat Maandag moet terugreis vir werk, dit gerieflik kan doen.

Ons sal dit waardeer indien almal wat kan, by ons aansluit vanaf die Vrydag. Daar is verblyf op die perseel van die venue beskikbaar. Ons beplan ’n paar aktiwiteite om te help dat almal mekaar beter leer ken.

Gaste is welkom om vanaf Vrydag tot Maandag oor te bly, indien hulle dit sou verkies.

Heavens View Mountain Resort

RSVP

Ons vra dat gaste asseblief teen 30 Januarie 2026 hul RSVP sal bevestig.

kliek hier om te rsvp